Oor ons

Ons span | Meer oor ons Gemeente

Leraars

frans

Ds Frans du Toit

Frans is ons leraar wat spesifiek fokus op Getuienisbediening. Hy bedien saam met 'n span leiers op plase en by besighede in Hoopstad distrik en wyer. Hy lei leiers op in die Sotho gemeenskap. Dan koördineer hy ook ons wyer getuieniswerk en skakeling met sendelinge in plekke soos Lesotho en verder in die buiteland.

victor

Ds Victor Cloete

Victor is gesamentlik verantwoordelik vir die gemeentebediening by Hoopkerk. Hy fokus veral op Jeug- en Familiebediening, waar hy daarna streef om jongmense en gesinne te begelei in hul geloofsreis en geestelike groei. Hy het ’n besondere passie vir mense en hul stories, en spesialiseer in Narratiewe Pastorale Terapie. Deur hierdie benadering help hy individue en gesinne om sin te maak van hul lewensverhale en nuwe hoop en betekenis te ontdek.

deseré meyer

Ds Deseré Meyer

Deseré, leraar in Hoopkerk is gesamentlik verantwoordelik vir die gemeentebediening en leef haar roeping uit met ’n hart vir mense van alle ouderdomme. Haar fokus val veral op gesins- en senior bediening, waar sy daarna streef om ruimtes van behoort, groei en geloofsvorming te skep. Met ’n diep passie vir mense en hul unieke verhale, begelei sy mense om in ’n nadere verhouding met die Here te leef en help sy om brue van begrip, omgee en gemeenskap tussen mense te bou.

Kerkraad

kerkraad

Agter: Pieter Wolfaardt, Charles van Schalkwyk, Herman van Zyl, AJ Calitz, Abraham Barnard, Zack Janse van Rensburg, Casper du Toit, Yster van Huyssteen, Botha Cruywagen, Hannes Groenewald. Middel: Gert van der Merwe, Jason Greeff, Marionette van Zyl, Ds. Frans du Toit, Ds. Victor Cloete, Ds. Deseré Meyer, Reinette Rautenbach, Thinus de Wet, Francois de Ridder. Voor: Jacques Jansen, Hennie Roos, Franco Schoonraad, Koos Snyman, Connie Wilsnach, Hennie van der Meulen, Kyle Wait, Herman Louw. Afwesig: Marelize Muller, Gert Victor, Thea Pretorius, Wian Roux, JD Horn, Johan Earle, Henko van Zyl, Raynard van Heerden, Ben van der Walt, Henri Strydom, Hennie Badenhorst, Rudolf Kellner.

Personeel

lemaé
Lemaé Visser (Sakebestuurder)
juanita groenewald
Juanita Groenewald (Assistent Sakebestuurder) en gesin.

Meer oor ons gemeente

Visie:

Ons leef vir God, groei saam, en dien ons naaste—oral.

Misie:

Die Here ons God is die enigste Here. Met hele hart, hele siel en hele verstand leef ons vir Hom. Hoop vir almal—naby en ver.

Ons gemeente se teologie:
Ons, as Hoopkerk, ‘n Nederduits Gereformeerde gemeente, bely met vaste vertroue en lewende hoop ons geloof in die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Ons identiteit en roeping is gegrond in God se genade en die vaste sekerheid van die hoop wat ons in Jesus Christus het.

Ons staan onwrikbaar op die gesag van die Heilige Skrif as die geïnspireerde, onfeilbare en volkome Woord van God – die enigste norm vir ons geloof en lewe (Sola Scriptura).

Ons bely die evangelie van genade soos saamgevat in die vyf Solas van die Reformasie:
Ons word gered uit genade alleen (Sola Gratia),
deur geloof alleen (Sola Fide),
in Christus alleen (Solus Christus),
volgens die Skrif alleen (Sola Scriptura),
en alles is tot eer van God alleen (Soli Deo Gloria).

Hierdie waarheid bring vir ons nie net sekerheid nie, maar ‘n lewende hoop – ‘n hoop wat nie teleurstel nie, omdat dit gegrond is in die voltooide werk van Jesus Christus en die trou van God.
Ons bely verder ons eenheid met die Gereformeerde tradisie soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid:
die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat ons leer van God en sy werke,
die Heidelbergse Kategismus, wat ons troos en hoop verwoord in lewe en sterwe,
en die Dordtse Leerreëls, wat die rykdom van God se genadige uitverkiesing en volharding van die heiliges beklemtoon.

Hierdie belydenisse help ons om die Skrif getrou te verstaan en te leef, en herinner ons voortdurend aan die vaste hoop wat ons het in God se onveranderlike beloftes.
Ons glo dat alle mense deur sonde van God geskei is, maar dat God in sy groot liefde en genade ‘n weg van verlossing gebaan het deur Jesus Christus. Deur sy kruisdood en opstanding het Hy vir ons ‘n lewende hoop gegee – vergifnis van sondes, nuwe lewe, en die sekerheid van die ewige heerlikheid.
Deur die werking van die Heilige Gees word hierdie hoop in ons harte gevestig, sodat ons met vreugde en vertroue kan leef, selfs te midde van lyding en onsekerheid. Hierdie hoop vorm die hart van wie ons is as Hoopkerk.

Ons roeping as gemeente is daarom:

  • om hierdie hoop in Christus suiwer te verkondig,
  • om mekaar op te bou in geloof, liefde en volharding,
  • om ‘n gemeenskap van hoop te wees in ‘n gebroke wêreld,
  • en om God te verheerlik in alles wat ons doen.

Ons leef nie uit onsself nie, maar uit die hoop wat God gee – ‘n hoop wat vas en seker is, geanker in Jesus Christus, ons Here.
Aan God alleen kom die eer toe – nou en vir ewig.

Scroll to Top